Linkin Park-konsert eindig in tragedie
2012-11-08 07:00
Kaapstad – 'n Vrou is dood en 19 ander beseer toe steierwerk Woensdagaand, kort voor Linkin Park se konsert, buite die Kaapstad-stadion omgewaai is.
Altesaam 20 mense is Woensdagaand beseer nadat die steierwerk omgewaai het, het die stad Kaapstad en Big Concerts in 'n verklaring bevestig. 'n Vrou het later weens haar beserings in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal beswyk.
"Die voorval het omstreeks 18:55 plaasgevind toe 'n sterk wind die steierwerk omgewaai het. 'n Inspeksie is voor die konsert gedoen en ingenieurs het die struktuur veilig verklaar," lui die verklaring.
Die 15 m hoë steierwerk was buite die stadion opgerig en die wind
het tussen 40km/h en 45 km/h gewaai. Van die beseerdes was glo vir ’n
tydjie onder die twee strukture vasgekeer, het Die Burger berig.
Die konsert het om 21:30 begin.
Die Amerikaanse rockgroep het op hul Facebook-blad hul medelye betuig met die familie van die aanhanger wat gesterf het.
"Ná ons vertoning vanaand [Woensdag] by die Kaapstad-stadion, is ons in kennis gestel dat verskeie mense beseer is nadat 'n advertensietoring van Lucozade in die parkeerterrein buite die stadion omgeval het.
"Ons wil ons diep hartseer en kommer uitspreek aan diegene wat beseer is en ons innige meegevoel aan die familie van die aanhanger wat weens haar beserings gesterf het.
"Hoewel ons geen verhouding gehad het met die borg wat die struktuur opgerig het nie, is die veiligheid van ons aanhangers baie belangrik. Ons gedagtes is by almal wat deur die tragedie geraak is."
Linkin Park het bevestig dat sy konsert in Johannesburg Saterdag sal voortgaan.
– Volg Nuus24 op Twitter