Lindley-verhoor uitgestel ná regsman onttrek
2011-05-23 14:33
Bloemfontein – Die verhoor van die ses mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die Potgieter-gesin in Desember 2010 op hul plaas vermoor het, is tot later vandeesweek in die Bloemfonteinse hooggeregshof uitgestel.
Regter George Wright het die saak tot Woensdag uitgestel omdat die nuwe regsverteenwoordiger vir een van die beskuldigdes nie Maandag by die hof kan wees nie.
Vusi Khumalo se regsverteenwoordiger het om aan die saak onttrek nadat hy sy pleidooi verander het en 'n aparte verhoor gekanselleer moes word.
Sy nuwe regsverteenwoordiger van die Regshulpraad sal eers Woensdag beskikbaar wees.
Die ses staan tereg op drie aanklagte van moord, een van roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.
Die Potgieter-gesin is op 1 Desember 2010 op hul plaas Tweefontein in die Lindley-distrik dood gevind.
Attie Potgieter (40) is na bewering met 'n panga aangeval, terwyl sy vrou, Wilna (36) en tweejarige dogter, Wilmien, in die huis doodgeskiet is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA