Lindley-plaaswerker erken hy was deel van komplot
2011-06-03 09:06
Bloemfontein - Een van die plaaswerkers van wyle Attie Potgieter van Lindley het Donderdagmiddag in die Vrystaatse hooggeregshof erken dat hy deel was van die komplot om hom te beroof.
Stemmer Mofokeng (23) het verder ook in kruisondervraging deur adv. Jannie Botha, vir die staat, erken dat hy besef het dat Potgieter, sy vrou, Wilna, en hul dogtertjie, Willemientjie (2), in dié beplande rooftog doodgemaak kon word.
Hy het Donderdag voor regter G.F. Wright aanvanklik ontken dat hy deel van ’n komplot was en getuig dat sy mede-werker Vusi Khumalo vir hom en die derde werker op die plaas Tweefontein, Klaas Mofokeng, al in September verlede jaar genader het om Potgieter te beroof.
Hy het getuig hulle het die volgende dag vir Khumalo gesê hulle wil nie daaraan deelneem nie.
Op 1 Desember het hy Tshokolo Lelala met ’n panga en Telleko Seekoei met ’n vuurwapen saam met ’n onbekende man op die plaas gesien.
Hy het toe na die ander twee plaaswerkers by die pakkamers gehardloop. Khumalo het daar vir hom gesê hy het hulle laat kom om die rooftog te pleeg.
’n Skoot het geklap en mense het geskreeu. Hy het mnr. Potgieter gesien hardloop met Lelala met ’n panga agter hom aan.
In ’n stoeiery het Potgieter vir Lelala oorweldig. Toe kom Seekoei met iets soos ’n mes by en steek Potgieter in sy rug. Hy kon hulle nie verder sien nie.
Botha het aan hom gestel dat hy sy rol in die aanval op die Potgieters afwater. Khumalo het al voor September vir hom gesê hy het ’n vuurwapen.
Kort voor die verdaging van die hof het Mofokeng erken hy was deel van die beplanning.
Adv. Oupa Makhene, vir Khumalo, het dit aan hom gestel dat hulle almal ooreengekom het om die Potgieters aan te val.
Mofokeng het gesê hy het nie vir Potgieter of die polisie van die planne vertel nie, want hy het gedink Khumalo het sy planne laat vaar.
Makhene het dit aan hom gestel dat Khumalo sê hy wat Mofokeng is, is die een wat gesê het dat daar ’n kluis in die huis is waaruit Potgieter geld gehaal het.
Khumalo sê ook die aand voor die aanval het hy die twee Mofokengs saam met die ander drie in sy huis gekry waar hulle die planne van die aanval bespreek het.
Mofokeng het gesê Khumalo lieg.
Makhene het dit gestel dat Mofokeng ’n onlosmakende deel van die gebeure was en dat hy ook later die aand na die swart woonbuurt by Lindley is om sy deel van die buit te gaan haal.
Al ses die beskuldigdes ontken skuld op die drie aanklagte van moord en een van roof met verswarende omstandighede.
Chris Gerber tree vir Stemmer Mofokeng op en adv. Lawrence Tshabalala vir Klaas Mofokeng. Adv. Pieter Nel tree vir Lelala en Seekoei op en Leona Smit vir Diphapang Motaung. Die verhoor duur voort.
- Volksblad