Lindley-plaasmoordverhoor uitgestel
2011-05-17 17:54
Bloemfontein - Die verhoor van ses mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die Potgieter-gesin in Desember 2010 op hul plaas in die Vrystaat vermoor het, is uitgestel sodat ‘n afsonderlike verhoor eers kan plaasvind.
Die Hooggeregshof in Bloemfontein het van een van die beskuldigdes, Vusi Khumalo (23), se regsverteenwoordiger gehoor hy wil skuldig pleit op die aanklagte teen hom.
Die staat het toe gevra dat Khumalo se verhoor afsonderlik van die ander vyf beskuldigdes s’n plaasvind.
Regter George Wright het beveel dat die verhore afsonderlik sal plaasvind en het die saak teen Khumalo tot Donderdag 19 Mei uitgestel. ‘n Ander regter in die hooggeregshof sal die saak hanteer.
Die ander vyf beskuldigdes se verhoor is tot Maandag 23 Mei uitgestel.
Die staat het ‘n afsonderlike klagstaat teen Khumalo, wat op die Potgieters se plaas gewerk het, ingedien. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van roof met verswarende omstandighede en verskeie aanklagte wat met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie verband hou.
Die Potgieter-gesin is op 1 Desember 2010 op hul plaas in die Lindley-distrik dood gevind.
Attie Potgieter (40) is aangeval, na bewering met ‘n panga, terwyl sy vrou, Wilna (36), en hul tweejarige dogter, Wilmien, binne die huis geskiet is.
Die moorde, veral dié op die tweejarige meisie, het gelei tot eise dat die regering plaasmoorde tot ‘n prioriteitsmisdaad verklaar.
Tydens vorige hofverskynings het plaaslike inwoners – insluitende boere en die ANC-Vroueliga – buite die hof betoog.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA