Lindley-moordverdagte wil skuldig pleit
2011-05-16 18:57
Bloemfontein – Die verhoor van ses mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die Potgieter-gesin op hul plaas in Lindley vermoor het, is Maandag in die Bloemfonteinse hooggeregshof uitgestel.
Die regsverteenwoordiger van een van die verdagtes het aan die hof gesê sy kliënt wil skuldig pleit op sommige van die aanklagte. Hy het nie gesê op watter aanklagte nie.
Hy het aan regter George Wright gesê hy moet die relevante dokumente optrek en aan die staat oorhandig.
Die ses staan tereg op drie aanklagte van moord, een van roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.
Die Potgieter-gesin is op 1 Desember 2010 op hul plaas Tweefontein in die Lindley-distrik dood gevind.
Attie Potgieter (40) is na bewering met 'n panga aangeval, terwyl sy vrou, Wilna (36) en tweejarige dogter, Wilmien, in die huis doodgeskiet is.
Die regter het die saak tot Dinsdag uitgestel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA