Lindley-moorde só beplan
2011-05-06 07:04
Bloemfontein - Drie plaaswerkers van Attie Potgieter van die plaas Tweefontein in die Lindley-distrik het drie ander mans gewerf om hulle te help om die vermoorde Potgieter-gesin te beroof, beweer die staat in sy akte van beskuldiging wat Maandag oor ’n week aan die ses in die Vrystaatse hooggeregshof gestel gaan word.
Dié moorde op die Potgieter-gesin waarin ook hul tweejarige dogtertjie, Willemien, met ’n kopwond dood gelaat is, het landwyd opslae gemaak.
Die ses beskuldigdes het Donderdag die eerste keer in die hooggeregshof voor regter G.F. Wright verskyn om seker te maak dat hulle regsverteenwoordiging het wanneer hulle op 16 Mei verhoor word en só ook onnodige vertraging te vermy.
Al ses het om regshulp van die Regshulpraad aansoek gedoen. Stemmer Boy Mofokeng (22) en Klaas Tapa Mofokeng (33) het gesê dat hulle deur hul familie vir hulle regsverteenwoordigers sou kry, maar het toe gister ook die nodige vorms vir regshulp ingevul.
Die staat beweer die twee Mofokengs en Paulus Samson Vusimuzi Khumalo (22), wat op die Potgieters se plaas gewerk het, het voor 1 Desember verlede jaar vir Tshohol Tello Meshack Letata (18), Telleko Sex Seekoei (19) en Diphapang Piet Motaung (18), almal van die Ntha-woonbuurt by Lindley, gewerf om hulle te help om ’n rooftog op die Potgieters uit te voer.
Die staat beweer hulle het saamgesweer om ’n rooftog te pleeg en ’n vuurwapen bekom.
Mnr. Potgieter is buite die huis oorval en met messe en ’n spitvurk gesteek en met ’n panga gekap. Hy is kort ná die aanval aan veelvuldige beserings dood.
Hy het glo meer as 150 beserings opgedoen.
Wilna Potgieter (36) en klein Wilmientjie is in die huis aangeval. Albei het kopbeserings opgedoen wat vermoedelik met ’n panga toegedien was.
“Hulle is ook albei geskiet, vermoedelik tereggestel,” lui die akte.
Mev. Potgieter is aan ’n nekwond dood en haar dogtertjie aan ’n kopwond.
Die staat beweer goed van bykans R20 000 is uit die huis gesteel en onder die beskuldigdes gedeel.
Die ses beskuldigdes sal teregstaan op drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
’n Lys van altesaam 45 getuies wat moontlik geroep kan word om in die verhoor te getuig, is aan die klagstaat geheg.
Adv. Jannie Botha sal vir die staat optree. Tot dusver sal Leona Smit, Sunet Kruger en Lawrence Tshabalala, al drie van die Regshulpraad, vir van die beskuldigdes optree.
- Volksblad