Lindley-moord: Rewolwer in tuin uitgegrawe
2011-05-31 06:56
Bloemfontein - Die rewolwer van Attie Potgieter, wat vermoedelik gebruik is om sy vrou, Wilna (36), en hul dogtertjie, Willemientjie (2), van Lindley dood te skiet, is in die tuin van een van hul vermeende moordenaars uitgegrawe, het die Vrystaatse hooggeregshof Maandag gehoor.
Die .357 Magnum-rewolwer met 78 patrone en 93 .38-patrone, in ’n plastieksak toegedraai, is uit ’n bedding in die tuin van Tshokolo Lelala (18) in die Polopark-woonbuurt by Lindley gegrawe nadat hy dit self aan die polisie uitgewys het. Dit is nou van die talle bewysstukke wat in die hof uitgestal is.
Adv. Jannie Botha, vir die staat, het Maandag voor regter G.F. Wright gesê Lelala erken hy het dié uitwysings vrywillig gedoen sonder dat dwang op hom uitgeoefen is.
Lelala het daarna ook die panga, waaraan bloed van Willemientjie en haar pa gekry is, op die dak van die huis van een van sy medebeskuldigdes en ook sy swaer, Vusi Khumalo (22), op die plaas Tweefontein, Lindley, uitgewys. Lelala het dit bevestig.
Willemientjie is van agter deur haar kop geskiet en haar ma is noodlottig in die nek gewond. Luidens ’n vroeëre verklaring in die hof is die kluis op Tweefontein oopgemaak en die rewolwer uitgehaal.
Anna Naudé van Marquard, suster van wyle mev. Potgieter, het Maandag van haar suster en swaer se besittings wat in die aanval op 1 Desember verlede jaar gesteel is, in die hof op die tafel vol bewysstukke uitgewys.
Van die goed wat sy uitgewys het, was selfone, motorsleutels, haar suster se handsak met sy inhoud, bankkaarte en boeke waarin haar suster onderskeidelik telefoonnommers, kruideniersware en brandstof in opgeteken het.
Die jongste beskuldigde, Diphapang Motaung (18), se ma, Maria Motaung, het Maandag getuig dat sy op 2 Desember ’n baadjie, hemp, broek en skoene wat haar seun die vorige dag gedra het, aan die polisie oorhandig het.
Hy was toe reeds in hegtenis geneem.
Vroeër het ’n deskundige getuig dat van mnr. Potgieter se bloed op dié baadjie en skoene gekry is.
Kune Mahloane het Maandag getuig al die beskuldigdes was die aand van 1 Desember in die huis waar sy en Lelala in die Ntha-woonbuurt woon.
Stemmer Mofokeng, Klaas Mofokeng en Khumalo het later die aand gekom, nadat Motaung al weg was.
Lelala en Telleko Seekoei het aan haar onderskeidelik R700 en R900 gegee.
Sy het van die bewysstukke as die baadjie, hemp en broek van Seekoei uitgeken. Vroeër is ook getuig dat op dié hemp, broek en skoene van mnr. Potgieter se bloed gekry is.
Al die beskuldigdes ontken dat hulle die Potgieter-gesin op 1 Desember op Tweefontein vermoor en beroof het.
Advv. Pieter Nel, Lawrence Tshabalala, Oupa Makhene, Chris Gerber en Leona Smit tree vir die beskuldigdes op. Die verhoor duur voort.
- Volksblad