Lindley-moord: Biddende ma doodgeskiet
2011-05-27 07:07
Bloemfontein - Klein Willemientjie Potgieter se ma, Wilna (36), het gebid toe sy doodgeskiet is. Net daarna is die tweejarige Willemientjie ook doodgeskiet, lui ’n verklaring van een van hul vermeende moordenaars wat Donderdag in die opspraakwekkende Lindley-moordverhoor in die Vrystaatse hooggeregshof ingedien is.
In ’n ander verklaring, wat ook ingedien is, vertel sy een vermeende makker, Vusi (Paulus) Khumalo (22), hoe Attie Potgieter (41) gehardloop het, met een van sy voormalige plaaswerkers al kappende met ’n panga in sy hand agterna. Daarna het ’n stoeiery tussen hulle om die panga ontstaan.
Hulle is van die ses beskuldigdes wat voor regter G.F. Wright skuld ontken op aanklagte dat hulle die Potgieter-gesin op 1 Desember verlede jaar op die plaas Tweefontein vermoor en beroof het.
Khumalo vertel ook dat die aanval op die Potgieters vooraf beplan was tussen hom en twee ander plaaswerkers van Potgieter op Tweefontein, sy swaer en twee ander mans. Hulle het aanvanklik besluit om net mnr. Potgieter dood te maak en sy vrou en kind net vas te bind en hulle te dreig om die geld uit te haal waar dit gebêre is.
Toe sê die ander twee plaaswerkers, Stemmer Mofokeng (22) en Klaas Mofokeng (33), hulle sal net die kind los. Sy is klein en kan nie praat nie. Die ma en pa sal later kan sê wie die mense is wat hulle aangeval het.
Klaas Mofokeng sê in sy verklaring hy en die ander twee plaaswerkers het die aand ná die aanval na die swart woonbuurt by Lindley gegaan waar hulle hul ander drie makkers ontmoet het.
Een het vertel dat een van hulle, met ’n vuurwapen by hom, die vrou in die huis ingevat het. Hy het geld by haar gesoek. Sy het “iets” oopgemaak en hulle kry toe ’n vuurwapen daarbinne.
Die man het die vuurwapen gevat. “Terwyl die dame bid, het hierdie onbekende man die vuurwapen wat hy in die huis gekry het, gebruik om haar te skiet. Daarna skiet hy ook die kind.”
Khumalo vertel in sy verklaring hoe hy gesien het hoe sy werkgewer hardloop. Sy swaer, Tshokolo Lelala (18), het hom gejaag en hom van agter met ’n panga gekap. Toe hulle by die skaapkraal naby die plaasopstal kom, het Potgieter omgedraai en Lelala gegryp.
Hulle het gestoei vir die panga totdat albei op die grond beland het. Toe kom Telleko Seekoei (19) daar aan. Toe Potgieter hom sien, het hy Lelala gelos en opgestaan.
“Daar het hulle kans gekry, die een kap hom en die ander een steek hom.
“Toe hy so skreeu, het ek gehoor hy roep die naam van Paulus. Dit is die naam wat hy my genoem het. Daar het hulle geslaag om hom te kap waar hulle was.
“Hulle bring hom toe saam na die huis toe, want hy was nou swak.”
Hy sê in die verklaring toe hy die gehuil van Potgieter en sy vrou, Wilna (36), hoor, het hy besluit hulle moet verskuif van waar hulle gewerk het. “Die gehuil van hulle het my bang gemaak.”
Hulle is toe na ’n sloot waar hulle gewag het totdat dit donker geword het. Terwyl hulle daar gewag het, het hulle drie skote hoor klap.
Oor die aanval op mnr. Potgieter sê Mofokeng in sy verklaring die aand ná die aanval het Khumalo vir Lelala (hy ken hom as Lankman) gevra hoe hulle in die aanval te werk gegaan het.
Lelala het toe gesê hy het ’n tuinvurk by hom gehad en dit gebruik “om baas Attie mee te steek”.
“Vusi vra toe vir die ander een hoe het hulle gewerk. Die man vertel vir Vusi dat hy ’n panga by hom gehad het en die ander man ’n vuurwapen.
“Hulle sê baas Attie het bo-op die ander man gesit en die ander man het baas Attie met ’n tuinvurk gesteek. Baas Attie het op Lankman gesit.”
Al die verklarings is voor landdroste afgelê.
Die verhoor duur voort.
- Volksblad