Lindiwe as leier nie ’n towerstaf
2011-09-28 07:03
Kaapstad - ’n Moontlike swart DA- parlementêre leier in die vorm van Lindiwe Mazibuko sal nie ’n “towerstaf” vir swart steun vir dié party wees nie.
Die uitbou van swart steun is iets wat geleidelik sal plaasvind, meen prof. Susan Booysen, politieke dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand.
“Dit sal ’n effense verbetering in swart steun bring omdat dit ’n taamlike prominente pos is. Dit is egter iets wat met tyd sal gebeur. Dit is nie ’n towerstaf nie. Op die langer duur sal dit ’n effense verskil maak,” het Booysen Dinsdag gesê.
Mazibuko (31) het Dinsdag amptelik aangekondig dat sy Athol Trollip, tans parlementêre leier van die DA, oor vier weke in ’n interne koukusverkiesing gaan uitdaag. As Mazibuko wen, sal dit die eerste keer wees dat ’n swart mens dié pos beklee.
Sy het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê dit is nie ’n geheim dat die DA sy steun onder swart mense wil uitbrei nie, daarom word ’n hoë premie op diversiteit geplaas.
Zwelethu Jolobe, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, wou nie Mazibuko se moontlike aanstelling met ras verbind nie.
“Dit gaan minder oor rassedinamika as ’n magstryd onder generasies. Mazibuko verteenwoordig die ontluikende nuwe generasie, terwyl die ouer geslag aanklank vind by Trollip.”
Sy bring volgens Jolobe vars idees en ’n vars siening na die parlement.
Prof. Dirk Kotze, politieke kenner aan Unisa, dink ook nie Mazibuko se moontlike opgang in die party sal op sigself dadelik die deurslag gee wat betref steun uit swart geledere nie.
“Die DA het die probleem dat sy topleierskorps in groot mate wit is ná die aftrede van mnr. Joe Seremane, die voormalige federale leier. Sy sal dus die gaping vul wat deur Seremane gelaat is, wat nie ’n vreeslike stap vorentoe is nie.”
Dié pos sal ’n belangrike leerskool vir Mazibuko wees as sy haar oog op die DA-leierskap het. “Dit gaan egter nie onmiddellik beteken dat die DA meer swart steun gaan trek nie. Dit hang natuurlik af wat in die ANC gebeur en of Cope weer ’n opsie gaan word,” het Kotze gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger