Limpopo departementshoof geskors
2009-11-15 10:50
Johannesburg – Die hoof van die Limpopo lanboudepartement, Bigman Maloa, is Vrydag geskors hangende die uitslag van ‘n forensiese ondersoek.
MG Masehla en KP Mbedzi, senior bestuurders in die departement se finansiële afdeling, is ook geskors, het die departement se woordvoerder, Thembi Makhuvele gesê.
Die skorsings is as gevolg van aanbevelings wat tydens verhore in Oktober deur die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) gemaak is.
Skoor het voorgestel die minister van landbou loods forensiese ondersoeke aangaande die beweerde deposito van R6 miljoen wat veronderstel was om vir werkerspensioene gebruik te word en in ‘n private sakerekening inbetaal is.
‘n Saak van konflik van belange rakende die verwerking van ‘n tender van R45 miljoen word ook ondersoek, het Makhuvele gesê.
Maloa is die derde departementshoof in Limpopo wat geskors is of wie se kontrak nie hernu is nie.
Die ander is Zwo Nevhutalu, opvoedkunde departementshoof, en Jabu Dlamini, gesondheid departementshoof.
- Sapa