Limpopo-broers vas vir moord
2010-07-22 11:33
Johannesburg – Twee broers is in hegtenis geneem vir die moord op ‘n 31-jarige man, het die polisie in Limpopo Donderdag gesê.
“Die twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 25 jaar oud, het David Lefofa Seloma glo Saterdag na afloop van ‘n argument by ‘n drankwinkel gesteek,” het lt. kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, gesê.
Die voorval het in die Rakgoatha-informele nedersetting naby Magatle plaasgevind.
Seloma het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Volgens Ramatseba is die motief vir die moord nog nie bekend nie. Die verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem.
Kort na die voorval het woedende inwoners die huise van die verdagtes se familielede aan die brand gesteek.
Die twee broers sal na verwagting binnekort in Magatle in die landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA