Liga swyg oor Malema se 'toer'
2011-11-14 06:52
Johannesburg – Die ANC-jeugliga wou Sondag nie bevestig of ontken dat hy ’n steuntoer beplan in ’n poging om die skorsing van Julius Malema as jeugleier om te keer nie.
“Wag vir ons mediakonferensie Woensdag,” het Magdalene Moonsamy, woordvoerder van die jeugliga, aan Beeld gesê.
“Die ANC-jeugliga se stryd om ekonomiese bevryding sal voortgesit word; dit is al wat ek nou kan sê.”
Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die jeugliga het Saterdag ’n “dringende vergadering” in Benoni belê om die nasionale tugkomitee (NTK) se besluit te bespreek om Malema en Floyd Shivambu, woordvoerder, uit die ANC-jeugliga en die ANC te skors.
Malema het saam met die ANC-jeugliga se NUK lede gesing en gedans tydens dié vergadering, waarop die jeugliga se terugvegstrategie bespreek is. Adv. Dali Mpofu SC, Malema se regsverteenwoordiger, was ook teenwoordig.
’n Steuntoer word glo vir die volgende twee weke beplan as deel van ’n terugvegpoging en om steun te werf vir die jeugliga se appèl teen die NTK se beslissing.
Die jeugliga het reeds gesê hy gaan appelleer.
Hy het tot die 24ste November tyd om amptelik appèl aan te teken by die ANC se nasionale tugkomitee onder leiding van mnr. Cyril Ramaphosa en met mnr. Trevor Manuel en mee. Jessie Duarte en Brigitte Mabandla as lede.
Moonsamy het gesê as lede van die ANC is hulle verplig om interne ANC-prosesse te respekteer, maar die jeugliga is ongelukkig omdat hy gestraf is “voordat ons lede die basiese reg gegun is om versagtende omstandighede aan te bied”.
Die jeugliga beskou dít reeds as “goeie gronde” vir appèl.
Moonsamy wou nie sê wie die regskoste vir die appèl sal dra nie en het die vraag na die ANC verwys.
Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, het gister gesê hy beskik nie oor dié inligting nie.
Mpofu, voorheen groephoof van die SAUK, word gereken as een van die land se voorste advokate.
Hy en adv. Patric Mtshaulana SC het Malema tydens sy tien week lange tugverhoor verteenwoordig.
Dit is nog onbekend of albei ook sy appèl sal behartig.
Húlle steun sy skorsing
70% van ’n groep jong Suid-Afrikaners onder wie ’n peiling gedoen is, het gesê hulle steun die ANC se besluit om mnr. Julius Malema (foto), ANC-jeugleier, vir vyf jaar uit die jeugliga én die ANC te skors.
TNS Research Surveys het tydens ’n selfoonpeiling die reaksie van 601 respondente getoets en bevind net 30% glo Malema se straf was te erg.
Onder respondente wie se huistaal Engels of Afrikaans is, het 88% gesê die straf is geregverdig.
Onder alle ander respondente was die syfer 66%, terwyl 57% van Pedi-sprekers (die oorheersende taal in Limpopo) die straf goedgekeur het.
Net 29% het gesê hulle vereenselwig hulle met dit wat Malema sê en doen, terwyl 71% gesê het hulle ondersteun hom nie.
461 van die respondente ouer as 16 jaar was swart en 112 was van ander rasgroepe.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld