Liefdesdriehoek lei tot moord op tiener
2010-10-10 12:57
’n Liefdesdriehoek het glo gelei tot die beweerde huurmoord op ’n tienerseun van Volksrust.
Quintin Morton (18) is verlede maand vermoor twee dae voordat hy by sy suster, Maritza van Aswegen, in Wallis sou gaan kuier het.
Morton se 16-jarige eksmeisie en ’n jong man van die dorp, Francois Potgieter (20), is aangekeer en het Vrydag ’n tweede keer in die hof verskyn.
Potgieter se regsverteenwoordiger, André Moolman van Volksrust, het gevra die hof moet Potgieter verwys vir sielkundige waarneming omdat hy lank reeds “aanvalle” kry waarvoor hy mediese behandeling weier.
Die polisie glo die eksmeisie het Potgieter gevra om Morton te vermoor. Sy kan nie geïdentifiseer word nie omdat sy minderjarig is.
Vrydagmiddag het Morton se familie in ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport vertel Quintin is glo vermoor omdat hy nie die eksmeisie wat hy onlangs afgesê het, wou terugvat nie.
Die rede is dat hy tot bekering gekom, kerk toe gegaan en met ’n “ordentlike meisie”, Jaquelene Goosen, begin uitgaan het, sê sy suster, Maritza van Aswegen.
Hy was moeg vir die “wilde lewe” saam met sy eksmeisie, sê sy.
Die eksmeisie was boonop glo “baie dominerend” en het selfs sy bankkaart afgevat om beheer oor sy geldsake te hê, vertel Quintin se ma, Issy Morton.
Volgens Van Aswegen het Quintin en Jaquelene hul verhouding stilgehou omdat Quintin die ergste verwag het as sy eksmeisie dit sou uitvind.
“Hy wou die eksmeisie eers vertel wanneer hy terug is uit Wallis.”
Van Aswegen glo egter sy het tog daarvan uitgevind omdat Quintin net voor sy dood dreig-SMS’e ontvang het.
Volgens Jaquelene het die eksmeisie vir haar vertel sy is swanger met Quintin se kind, maar dit was nie waar nie.
Van Aswegen sê haar broer het vir sy lewe gevrees en ’n swaard in sy slaapkamer gehou vir selfverdediging.
Quintin se ouers vertel hulle het gesien hoe die eksmeisie en ’n onbekende man voor die moord op en af in die straat voor die moordhuis ry asof hulle die straat verken.
Die moordhuis is langs Quintin se ouerhuis. Die eksmeisie het Quintin glo na die moordhuis gelok met ’n SMS na sy selfoon. Sy het voorgegee sy wil hom groet voor hy oorsee vertrek.
’n Ooggetuie het die dag van Quintin se dood gesien hoe sy by die moordhuis ingaan en gehoor hoe Quintin herhaaldelik vir haar sê: “Moenie aan my stamp nie!”
Quintin is glo deur Potgieter met ’n hamer en ’n motor se dryfas doodgeslaan terwyl die eksmeisie aanvanklik toegekyk het.
Quintin se pa, Willie, het later die dag na hom gaan soek.
“Toe ek by die huis instap, het ek bloedspatsels teen ’n gangmuur gesien. Skaars twee treë verder het ek sy lyk gesien.
“Hy het op sy maag in die kombuis gelê. Dit was verskriklik, die kombuisvloer was van hoek tot kant met bloed besmeer,” vertel hy.
Jaquelene vertel: “Die dag van Quintin se moord was sy eksmeisie ook by my huis, maar my ma wou nie die deur vir haar oopmaak nie.”
Die volgende dag het die eksmeisie se ma ’n brief by Quintin se ouerhuis afgelewer waarin sy die hoop uitspreek dat die “monster” wat Quintin vermoor het, gou gevang word.
Skaars ’n week later is haar dogter in hegtenis geneem. Die brief is nou in die polisiedossier.
Die moordwapens is in ’n dam gegooi waarin die polisie dit later gekry het.
’n Hartseer Jaquelene het Vrydag gesê sy sal Quintin altyd onthou as ’n dinamiese, op en wakker jong man. “Hy was ’n go-getter!”
- Rapport