Liefdesdriehoek eindig in tragedie
2010-02-24 15:28
Johannesburg - 'n Sekerheidswag van Limpopo het sy eksmeisie en haar vriend gewond voor hy homself om die lewe gebring het.
Edmond Seabi het glo Dinsdagaand omstreeks 18:00 by die huis van sy eksmeisie, Mmakoena Makgapa, in Zone Five ingestorm, het insp. Mothemane Malefo, 'n polisiewoordvoerder, gesê.
"Makgapa het 'n paar dae gelede hul verhouding beëindig, maar hy kon dit nie aanvaar nie."
Makgapa was saam met 'n vriend en 'n nuwe kêrel toe hulle aangeval is.
"Sonder om 'n woord te sê het Seabi sy dienspistool uitgehaal en Makgapa se nuwe kêrel geskiet. Die skoot het hom gemis en die 28-jarige vriend in die skouer getref."
Hy het Makgapa in die bors en bolyf geskiet.
"Hy het toe uitgehardloop waar hy homself in die kop geskiet het."
Seabi is op die toneel dood veklaar.
Makgapa en haar vriend is na die Seshego-hospitaal geneem vir behandeling.
– Sapa