Libië slaan munt uit SA bates
2011-03-04 12:03
Kaapstad – Die Libiese regering se beleggingsarm, Libyan Investment Authority, is die mede-eienaar van 'n groep hotelle in Sandton sowel as eiendom by die ikoniese V&A Waterfront in Kaapstad, berig Mail & Guardian Online.
Verskeie regerings wêreldwyd het die bates van die Libiese regering gevries nadat die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad die bates van die Libiese leier Muammar Gaddafi en sy gesin gevries het.
Suid-Afrika het egter nog nie bekend gemaak of hy soortgelyke stappe gaan doen nie.
Libië se premier, Baghdadi Mahmudi, is die voorsitter van die Libyan Investment Authority en die land se tweede magtigste figuur naas Gaddafi.
Deur die Libya Africa Investment Portfolio besit die Libyan Investment Authority die Libya Arab African Investment Company (Laaico) wat deur sy 100% aandeel in die Ensemble Hotel Holdings 'n aandeel in die Suid-Afrikaanse toerisme- en eiendomssektor het.
Ensemble besit die vyfster Michelangelo-hotel in die hartjie van Sandton en het 'n minderheidsaandeel in Legacy Hotel Holdings wat die Michelangelo Towers, Da Vinci-hotel en Raphael Penthouse Suites besit.
Laaico het ook aandele in die Commodore- en Portswood-hotel naby die V&A Waterfront, die Airport Grand naby die OR Tambo Internasionale Lughawe en nege ander hotelle en oorde oor die land.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het gesê operasionele werk by die hotelle sal soos normaal voortgaan, maar Gaddafi se binnekring en diegene met 'n aandeel in sy regime sal nie toegang tot die geld hê nie.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter