Libië: 'Weg nou gebaan vir AU-padkaart'
2011-09-25 22:33
Johannesburg – Die pad is nou oop vir die Afrika Unie (AU) se “padkaart” om geïmplementeer te word in Libië, het President Jacob Zuma Sondag gesê met sy terugkeer van ‘n Verenigde Nasies-vergadering in New York.
“Die NTC [Nasionale Oorgangsraad] het aan die AU geskryf en sy ondersteuning vir AU-prosesse, veral die belangrikheid daarvan om ‘n inklusiewe oorgangsregering daar te stel wat Libië se plek by die VN kan inneem, uitgespreek,” het Zuma in ‘n verklaring gesê.
Zuma het ‘n vergadering oor Libië bygewoon wat deur die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki Moon, saamgeroep is.
“Ons glo die pad is nou oop vir die AU en almal van ons om die Libiese mense te ondersteun om vorentoe te gaan en die prosesse wat in die AU-padkaart uiteengesit is, te implementeer en om in die algemeen geleidelik normaliteit na daardie land terug te laat keer. Ons staan gereed om, as deel van die AU, bystand te bied,” het Zuma gesê.
Die NTC regeer in Libië sedert die oud-leier Muammar Gaddafi ontsetel is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA