Lewenslank, ná moord op verpleegster
2011-09-26 20:03
Pietermaritzburg – Twee mans wat daaraan skuldig bevind is dat hulle ‘n afgetrede verpleegster doodgesteek het, is Maandag lewenslange tronkstraf opgelê in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg.
Regter Esther Steyn het gesê die aanval deur Justin Mjoli (19) en Mandlenkosi Dalamini (26) op hul voormalige werkgewer sal dit onwaarskynlik maak dat bejaarde mense vreemdelinge in diens sal neem.
Mjoli en Dlamini het skuldig gepleit op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en moord. Hulle het die afgetrede verpleegster Maalthie Mownchan (65) op 6 September vanjaar vermoor.
Hulle het gesê hulle was op soek na “vinnige geld”.
Steyn het gesê hul omstandighede van armoede was nie deeglik of oortuigend genoeg om enige afwyking van die voorgeskrewe vonnis te regverdig nie. Hulle is ook elk 15 jaar tronkstraf opgelê vir die rooftog.
Sy het aan Dlamini en Mjoli gesê hulle het ‘n gerespekteerde persoon wat die samelewing gedien het, vermoor. Mownchan het haar vaardighede gebruik om gratis verpleegdienste aan armes te verskaf en het ook by ‘n plaaslike hospitaal uitgehelp. Sy het Mjoli by haar huis ingelaat, aangesien hy vroeër vir haar gewerk het.
Mjoli het Mownchain aan die nek gegryp en haar beveel om stil te bly, aangesien hulle net geld wou hê. Sy het gegil toe sy Dlamini se mes sien. Mjoli het die mes by hom gevat en haar vier maal in die nek gesteek.
Hy het haar met soveel geweld gesteek dat die mes eers by die lykskouing verwyder kon word.
Steyn het gesê dít, asook die feit dat die mans iemand wat Mjoli vertrou het as hul slagoffer gekies het, het bygedra tot die wreedheid van die misdaad.
Dheelan Naidoo, staatsadvokaat, het gesê alhoewel daar geargumenteer is dat die mans berou getoon het deur skuldig te pleit, daar ‘n gaping tussen berou en spyt is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA