Lewenslange vonnis vir mans wat ontsnap, moor
2013-01-18 15:06
Bloemfontein – Vier mans is Vrydag in die Bloemfontein-hooggeregshof 'n dubbele lewenslange vonnis opgelê vir moorde wat gepleeg is tydens ‘n ontsnapping uit die Harrismith-landdroshof in Mei 2011.
Die mans is Nkosana Zondo (37), Joseph Ntoni (33), Richard Phakoe (35) en Thami Ramahlokoane (27). Hulle is skuldig bevind aan verskeie aanklagte, insluitend twee van moord.
Hulle is nog ‘n lewenslange vonnis opgelê vir die dood van Avelene Botes (52), ‘n sakevrou van Harrismith, wie se voertuig hulle buite die hof gekaap en in Qwaqwa in ‘n ongeluk mee betrokke was.
Botes is dood weens beserings wat sy in die ongeluk opgedoen het.
Die mans is verder individueel tot tussen ses en 20 jaar tronkstaf gevonnis vir poging tot moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en hul ontsnapping uit aanhouding.
Al die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Regter Van Zyl sê dit is suiwer geluk dat nie meer mense op die dag van hul ontsnapping dood is nie.
Sy het die mans as gevaarlik beskryf. Die regter sê hulle het geen respek vir lewe of die samelewing getoon nie.
Van Zyl sê die arrogansie wat die mans getoon het in die beplanning en uitvoering van ‘n ontsnapping uit ‘n plek met ‘n hoë polisie-teenwoordigheid is ‘n groot faktor.
Die regter sê die lewenslange vonnisse word ook geregverdig in die lig van die groot getal polisiebeamptes wat aan diens dood is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA