Lesbiërs lewe in vrees ná tronkvoëls ontsnap
2010-09-16 14:02
Kaapstad – Vier verdagtes wat na bewering 'n lesbiese vrou in Khayelitsha, Kaapstad, vermoor het, het ontsnap.
Dit is die vierde ontsnapping uit die Khayelitsha landdroshof se aanhoudingselle in minder as 'n jaar.
Aktiviste vir geslagsregte sê nou hulle vrees vir hul lewens.
By elke hofverskyning het ‘n groep aktiviste en ondersteuners voor die hof getoi-toi en aangedring dat die vermeende moordenaars van Zoliswa Nkonyana (19) tronk toe moet gaan.
“Dis slegte nuus. Ek is bang,” het Funeka Soldaat, ‘n lesbiese aktivis vir die Free Gender-NRO in Khayelitsha, gesê.
“Ek hoop hulle word vanaand nog gevang,” het sy bygevoeg.
Die groep het ook ‘n beroep op die hof gedoen om die saak so vinnig as moontlik af te handel.
Die saak is al 20 keer uitgestel sedert dit vier jaar gelede hof toe is.
Volg Nuus24 op Twitter.