Leraar verdrink byna in seedrama
2012-01-17 08:01
Bloemfontein – Dit is ’n wonderwerk dat hy leef, sê ’n Bloemfonteinse predikant wat op Nuwejaarsdag, in ’n poging om sy kinders te help, byna in die see verdrink het.
Ds. Nico Mostert (44), ’n leraar van die NG gemeente Hugenoot, en sy tienjarige drieling Marinel, Nielbert en Jan-Albert, het op Boknes in die Oos-Kaap gaan swem toe ’n sterk stroom hulle meegesleur het.
Mostert en sy gesin hou al die afgelope vyf jaar hier vakansie. Hy is diep teleurgesteld dat die Ndlambe-munisipaliteit die eerste keer in vyf jaar nie menseredders op die hoofstrand gehad nie. “Daar was baie mense op die strand toe ons teen 15:30 gaan swem het.”
Mostert, wat op skool ’n mensereddingskursus voltooi het, sê hy moes die gevaartekens raakgesien het.
“Daar het mense geswem, maar die wind het baie gewaai en die see was baie onstuimig.”
Hulle was omtrent 10 m in die water toe ’n sterk dwarsstroom hulle weggesleur het.
“Ek het vir Marinel en Nielbert, wat albei goeie swemmers is, geskreeu om uit die water te kom.” Hy het na Jan-Albert, wat reeds ver van hom af was en gesukkel het, geswem en hom gehelp.
Alles het daarna vinnig gebeur en hy het besef dat hy nie lewend uit die water gaan kom nie. “Ek het in ’n watersloep beland en dit het gevoel asof die maalgat my ál dieper intrek.”
Mostert sê hy het begin bid en vir die Here gesê as hy moet doodgaan, is dit reg, maar sy kinders is baie jonk.
Hy het begin moeg raak en na die bodem gesink. “Dis toe dat ’n wonderwerk gebeur het en ek regop kon staan danksy ’n sandbank onder my. Ek het gebid vir sand onder my voete en dit was daar.” Intussen het sy paniekbevange kinders almal op die strand ingelig oor wat gebeur het, maar niemand wou die onstuimige waters aandurf nie.
Danksy die sandbank kon hy na die vlak water beweeg en is hy uitgehelp. Paramedici van ER24 het die water uit sy longe gekry en hy is vir behandeling is na die private hospitaal op Port Alfred gebring.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad