Lekota vra vir opposisie-vergadering
2011-11-14 17:58
Kaapstad – Mosiuoa Lekota, president van Cope, het alle opposisiepartye Maandag genooi vir praatjies op 25 November om ‘n meer verenigde front teen die ANC te vorm.
Lekota het gesê die voormalige bevrydingsbeweging het sy doel uitgedien en te korrup geword om Suid-Afrika van die regering te voorsien wat die land benodig.
“Die regerende party is in krisis. Die alliansie is in krisis,” het Lekota in Kaapstad aan verslaggewers gesê.
“Hierdie krisis het na die regering versprei. Of dit nou op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak is, die regering is in ‘n krisis van onvermoë om op die mense van heirdie land se behoeftes te reageer en is verlam deur korrupsie wat ongekend is sedert ons die land gedemokratiseer het.
“Die bevrydingsbeweging het sy historiese sending voltooi. Selfs die romantiek is verby.”
Volgens Lekota het Cope verlede maand by die vorige sessie van die nasionale komitee van die kongres ooreengestem dat slegs ‘n meer verenigde opposisie ‘n vatbare alternatief tot die ANC sal bied.
“Ons gevolgtrekking was dat as opposisiepartye saamspan, hulle kan begin om ‘n kredietwaardige, effektiewe alternatief tot die regerende party te bied,” het hy gesê.
Lekota het berigte dat hy voorberei om met die DA saam te smelt as ‘n “denkfout” verwerp en gesê sy uitnodiging is vir ‘n “ontmoeting van gelykes”.
“[Die DA] is ‘n lid van die opposisie en is soos al die ander genooi.”
Volgens Lekota het opposisieleiers nog nie op sy uitnodiging gereageer nie en is die uitkoms van die vergadering nog ver van ‘n uitgemaakte saak.
“Dit is nie ‘n gebeurtenis nie. Dit is ‘n proses.”
Hy wou nie die binnegevegte wat sy party teister bespreek nie, maar Cope se tesourier, Hilda Ndude, het gesê alle partye, insluitende die DA, het hul eie probleme en dat dit geen verskoning vir ‘n gebrek aan optrede is nie.
Die lang stryd tussen Lekota en Mbhazima Shilowa vir leierskap van die party sal in Desember in die hof voortgaan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA