Lekota spoel mond uit oor Manyi se uitlatings
2011-03-14 08:00
Upington - Jimmy Manyi, omstrede regeringswoordvoerder, se idee dat bruines uitgesluit moet word onder die term swartes, is “siek”, het Mosiuoa Lekota, nasionale leier van Cope, Saterdag hier gesê toe hy sy party se verkiesingsveldtog aan die gang gesit het.
Hy het geesdriftige Cope-lede in die saal van die Hoërskool S.C. Kearns in Louisvaleweg toegespreek.
Fred Wyngaardt, provinsiale voorsitter van Cope, het op dié byeenkoms gesê Cope “het net een president” (Lekota), en daarmee bevestig dat die party in die Noord-Kaap verenig agter Lekota staan.
Lekota het onder munisipale amptenare ingeklim wat nie hul werk behoorlik doen nie en gesê hy was “verstom” toe hy gehoor het dat Kimberley drie dae sonder water was.
Hy het gesê daar is baie min Suid-Afrikaners wat nie “wit én swart” bloed het nie. Sy eie kleinkinders is bruin.
Daar is geen provinsie wat net aan een groep behoort nie, het hy gesê met verwysing na Manyi se uitlating dat daar ’n oorkonsentrasie van bruines in die Wes-Kaap is.
“Verandering in enige land begin by plaaslike bestuur. Ons agenda begin nou om die regering te verander. Mense moet die besluit neem om nuwe leiers te kies.”
Onbevoegde amptenare moet uitgeskop word. “Ons wil mense hê met die nodige vaardighede.”
Dit is ongelukkig dat ’n swemgala onlangs in Durban gekanselleer is, omdat daar te veel wit deelnemers sou wees.
“Hoe kan ons sê wittes mag nie hul land verteenwoordig nie? Hoe kan ons dit vir enige kind sê? Die regering moet swembaddens in elke gemeenskap bou sodat spanne uit almal gekies kan word.”
Cope sal as regering alles moontlik doen om te verseker dat elke kind die sportsoort van sy keuse kan beoefen.
Die voorgestelde arbeidswetgewing is ’n “gemors”.
“Dis bog dat die bestes nie aangestel kan word nie. Ons mikpunt moet wees om vir almal werk te skep.
“Ek gee nie om of jy swart of wit is nie. As jy die nodige kennis en vaardigheid het, stel ons jou aan.”
- Volksblad