Lekota ‘sal Shilowa nie as leier aanvaar’
2010-12-16 09:11
Die Burger
Johannesburg - Mosiuoa Lekota, leier van Cope, sal dit “nooit aanvaar” as Mbhazima Shilowa vandag tot leier van die party verkies word nie.
Shilowa, Cope se adjunkleier, het gesê as “’n demokraat” sal hy hom berus by wie ook al tot leier verkies word.
Op die vooraand van die party se leiersverkiesing – wat gister sou begin, maar weens beweerde inmenging met die registrasieproses vertraag is – het Lekota gesê hy sal “nie ’n leier aanvaar wat van korrupsie beskuldig word nie”.
Hy het verwys na klagte teen Shilowa van onder meer die wanbestuur van sowat R20miljoen se parlementêre geld wat aan die party bewillig is.
Lekota het gesê Shilowa se beweerde optrede is “misdadig van aard”. “Om vir hom te stem, sal niemand ’n guns bewys nie.”
Lekota het ontken die bewerings is deel van ’n heksejag teen Shilowa in die aanloop tot die leiersverkiesing.
Hy erken die party het miljoene Suid-Afrikaners wat gesorg het dat Cope die derde meeste stemme in die vorige algemene verkiesing gekry het, teleurgestel. “Dit het my diep hartseer gemaak dat sommige mense aan wie ons die party se administrasie toevertrou het, sy prestasie verlam het.”
Die vurige stryd om die leiersposisie dui die laaste ruk op ’n moontlike skeuring in die party, maar Shilowa sê hy wil dit “met alle mag vermy”. “Suid-Afrikaners se intelligensie moenie onderskat word nie. Hulle soek nie ’n Shilowa-party of ’n Lekota-party nie. Hulle soek ’n Cope-party wat ’n veranderde Suid-Afrika beloof.”
Hy het gesê hy fokus nou op die leiersverkiesing. “Dis nie ’n geval van ‘mag die beste man wen nie’. Dis eerder ‘mag wie ook al wen die beste vir die party wees’.”
* Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger