Lekota-lojaliste verkry interdik
2011-12-17 07:59
Kaapstad – Die faksie in Cope wat lojaal is aan die partyleier, Mosiuoa Lekota, het twee interdikte teen die opponerende Shilowa-faksie verkry.
Volgens Deidre Carter, Cope se waarnemende sekretaris-generaal en ’n vurige Lekota-ondersteuner, is die interdikte in Bloemfontein en Oos-Londen toegestaan.
Dit spruit uit planne deur ondersteuners van Mbhazima Shilowa, wat met Lekota in dispuut verkeer oor wie van hulle twee die ware Cope-leier is, om “raadplegende Cope-konferensies” in die Vrystaat en Oos-Kaap te hou.
Die Vrystaatse en Oos-Kaapse hooggeregshowe het bepaal die twee voorgenome byeenkomste is nie Cope-byeenkomste nie, en Cope se geld mag nie daarvoor gebruik word nie.
Carter het vroeër vandeesweek gedreig om enige werknemer of ampsdraer van Cope te skors as hulle die beplande byeenkomste bywoon.
Mbulelo Ncedana, Cope se leier in die Wes-Kaapse wetgewer, word by die interdik ingesluit.
- Die Burger