Lekota glo hy is steeds Cope se enigste leier
2010-05-31 07:05
Politieke Redaksie, Die Burger
Kempton Park. - Die hare kan vanoggend waai by Cope se hoofkwartier in Braamfontein wanneer beide Mosiuoa Lekota én Mbhazima Shilowa as partyleier gaan aanmeld.
Terwyl Lekota gister volgehou het hy is die Cope-president, het Shilowa gisteraand op sy beurt verklaar hý is die waarnemende president.
Cope se betwiste nasionale kongres het gisteraand verdaag met Shilowa se belofte om die besluite wat die naweek geneem is – waaronder die verwydering van Lekota en die benoeming van nuwe leiers – in die hof te verdedig.
Lekota en sy faksie het die afgelope naweek ’n hofinterdik bekom om ’n leiersverkiesing te verhoed.
Hy was gister, ná ’n naweek van politieke hoogdrama en chaos, onwrikbaar in sy oortuiging dat hy steeds Cope se regmatige leier is en dat enige besluite deur die party se nasionale kongres nié bindend of legitiem is nie.
“Ek ís beslis Cope se leier,” het Lekota op ’n nuusperskonferensie in Kempton Park gesê.
“Ek gaan die hoofsekretaris (Charlotte Lobe, ’n Shilowa-bondgenoot) versoek om die nasionale komitee byeen te roep.
“As sy dit nie wil doen nie, sal ek haar adjunk (Deidre Carter, ’n Lekota-bondgenoot), vra om so te maak.”
“Ek is tot die eenheid van die party verbind, maar sal nie my beginsels hiervoor versaak nie. Dit is onmoontlik om met ’n verneukspul te werk. Ons het Saterdag uitgeloop omdat ons onsself nie met hul oëverblindery kon vereenselwig nie,” het hy gesê.
Shilowa en ’n stroewe Lobe het gisteraand bevestig hulle het die party se grondwet verander, maar wou nie besonderhede gee nie.
Dit hou egter in alle waarskynlikheid verband met die magte en samestelling van die nasionale komitee, Cope se hoogste gesagsliggaam.
- Die Burger
Volg Nuus24 op Twitter.