Lekota en Shilowa het yslike ego’s, sê WikiLeaks
2010-12-26 09:25
Johannesburg - Die twee strydende Cope-leiers, Mosiuoa Lekota en Mbhazima Shilowa, het “albei yslike ego’s” en “wil niks eerder hê as om president van Suid-Afrika te wees nie”, lui ’n diplomatieke nota van die Amerikaanse ambassade in Pretoria wat uitgelek is en wat Rapport eksklusief bekom het.
Die nota – een van 250 000 wat gelek is aan die vluitjieblaser-webtuiste WikiLeaks, maar nog nie openbaar gemaak is nie – haal Cope se voormalige woordvoerder en Lekota se persoonlike assistent dr. Tseliso Phomanen aan: “Shilowa se mense is slim, maar gewetenloos. Hulle sal toesien dat Lekota eenkant toe geskuif word en Shilowa voorgestoot word as die party se leier.”
Phomane, wat nie meer aktief by die party betrokke is nie, het teruggekap en die diplomatieke nota as ’n “versinsel” en “’n boel leuens en teenstrydighede” afgemaak.
Die nota kom in ’n tyd dat Lekota en Shilowa se bitter magstryd nuwe hoogtepunte bereik het. Dit volg op die party se mislukte verkiesingskongres wat verlede week in chaos geëindig het. Shilowa beweer hy is tot nuwe leier verkies.
Die nota wat 2 September 2009 gedateer is, is geskryf deur ’n anonieme Amerikaanse politieke amptenaar en behels ’n beweerde vergadering tussen ambassade-personeel en Phomane in middel Augustus verlede jaar.
Maar volgens Phomane het hy die Amerikaners slegs op drie formele geleenthede ontmoet; toe Cope van stapel gestuur is in Bloemfontein, op ’n dinee waar Lekota deur die Amerikaanse ambassade ontvang is en ’n ontmoeting by die Amerikaanse ambassade met Lekota en Cope se presidentskandidaat, eerw. Mvume Dandala. Phomane was geskok toe hy ’n kopie van die nota gelees het wat Rapport aan hom gestuur het. “Ek het dit gelees, dalk meer as vyf keer om te probeer vasstel wie op aarde die persoon was wat al dié leuens oor my en my verhouding met Cope en mnr. Lekota geskryf het.”
Hy meen daar is “’n gekonkel om my as persoon in ’n slegte lig te stel en ’n prentjie te versin van hoe die Amerikaners Cope, sy leiers of hul idee van Cope sien”.
Die nota is “sensitief maar nie geheim” gemerk en is getiteld: “Lekota personal assistant warns ‘watch out for Shilowa’.”
Dit lui verder: “Phomane het die verdeeldheid onder die leierskap daaraan toegeskryf dat Lekota en die voormalige Gautengse premier Shilowa ‘yslike ego’s’ het. Volgens hom is daar ‘niks wat albei mans meer wil hê as om president van Suid-Afrika’ te wees nie”.
Cope se woordvoerder, mnr. Phillip Dexter, het gesê Phomane “het geen mandaat gehad om met enigiemand by die Amerikaanse ambassade of inderwaarheid, enige ander ambassade te praat nie”.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport