Lekota bly leier van Cope
2010-06-06 17:36
Johannesburg - Die Cope-leier Mosiuoa Lekota het Sondag beloof om genesing te bring ten spyte van onenigheid in sy party.
"Daar is nie twee Copes nie – daar is een Cope," het Lekota tydens 'n mediakonferensie in Braamfontein, Johannesburg gesê na die hooggeregshof in sy guns besluit het. Die uitspraak volg op 'n regstryd tussen hom en lede van sy party wat Mbhazima Shilowa ondersteun.
"Ons sal 'n vergadering byeenroep met Cope se nasionale komitee," het hy gesê met verwysing na die party se hoogste uitvoerende liggaam.
Lekota het vroeër vanaf die trappe van die hooggeregshof in Johannesburg sy eie en Shilowa se ondersteuners bedank vir hulle "goeie gedrag" tydens die verhoor.
Regter Rami Mathopo het bepaal dat Lekota steeds Cope se president is, en dat die konferensie verlede week waartydens 'n mosie van wantroue teen hom ingedien was, ongeldig was.
Volgens Mathopo moes Phillip Dexter, Cope se woordvoerder, sowel as Lekota, voor die stemmery 'n geleentheid gehad het om hul saak te stel.
Hy het ook gelas dat Dexter en Lekota toegelaat moet word om hulle posisies te behou, en het Shilowa se ondersteuners verbied om met Cope-LP's in die parlement se werk in te meng. Die Shilowa-faksie is ook beveel om Lekota se regskostes te betaal.
- SAPA