Leierskap 'is sleutel tot Vigsplan'
2011-12-01 19:54
Johannesburg – Die Demokratiese Alliansie het gesê die sukses van die nuwe Nasionale Strategiese Plan teen MIV hang af van hoe effektief die regering dit kan implementeer.
Mike Waters, DA-woordvoerder oor gesondheid, het Donderdag gesê die plan is afhanklik van die effektiwiteit van President Jacob Zuma se administrasie, en of hy die nodige leierskap kan voorsien.
Die plan is vroeër Donderdag deur Zuma in Port Elizabeth bekend gestel.
Volgens Waters was die regering korrek toe opgemerk is dat die vorige plan oneffektief was omdat dit nie ordentlik gemonitor is nie en niemand verantwoordelikheid vir die uitkomste aanvaar het nie.
“Vir die nuwe plan om suksesvol te wees, moet die regering, in vennootskap met die provinsiale gesondheidsdepartemente, verantwoordbaarheidsmaatreëls aan die kern van die kwessie plaas,” het hy gesê.
Waters het gesê die plan se teiken om infeksies binne die volgende vyf jaar te halveer, is ‘n dapper een en kan slegs bereik word deur konsekwente leierskap, die vermyding van veelvuldige seksuele maats en ‘n toename in kondoomgebruik.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA