Leidrade opgevolg oor Tuks-student se verdwyning
2011-07-26 13:32
Kaapstad – Duncan Allan, wat nege dae gelede spoorloos verdwyn het, se suster het gesê daar is leidrade wat opgevolg word in verband met sy verdwyning.
"Ons het nog niks van hom gehoor nie, maar die polisie is besig om leidrade op te volg," het Ashleigh Allan Dinsdag aan Nuus24 gesê.
Sy wou nie uitwei oor die leidrade nie "omdat die ondersoek in 'n sensitiewe stadium is".
Intussen is die groep DUNCAN CRAIG ALLAN IS MISSING op Facebook begin. Dié groep het teen Dinsdagmiddag 11 876 lede gehad.
Duncan, ’n derdejaarstudent in BCom Beleggingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria, is verlede Maandag laas by die Lynnwood Motors in Atterburyweg, Menlopark, gesien. Hy het omstreeks 07:30 sy motor gaan haal nadat dit gediens is.
Sy simkaart is sedert sy verdwyning nie weer gebruik nie en sy motor is ook nie weer gesien nie.
Hy het nog nie weer klasse by die universiteit bygewoon nie en het sedertdien nog nie weer kontak gemaak met vriende, familielede of lidmate van die kerk nie.
Hy was ten tyde van sy verdwyning geklee in 'n denimbroek, swart sandale en 'n grys sweetpaktop met ’n kappie.
Mense met inligting word versoek om ao. Paswane op 082 319 9647 of 012 366 1795 te bel. Alternatiewelik kan sy pa, Tim, by 082 882 4047 of Ashleigh by 082 953 5623 geskakel word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24