Leidrade gesoek ná moord op sakeman
2011-09-29 08:04
Johannesburg – Die polisie soek steeds moontlike leidrade oor die moord op die sakeman Mark Andrews, wat vermoedelik die hoofverdagte was in die moordraaisel van die Teazers-prokureur, Ian Jordaan.
Andrews se lyk is Woensdag in Brackendowns, Alberton, gevind. Sy hande is agter sy rug vasgemaak en hy is in die kop geskiet.
Die polisie in Gauteng het 'n beroep gedoen op mense met inligting om na vore te kom.
Andrews en die Teazers-baas, Lolly Jackson, was in 'n sakedispuut gewikkel oor die eienaarskap en bestuur van 'n ontkleeklub in Cresta.
Die polisie wou hom ondervra oor die dood van Jordaan, wie se verbrande motor verlede week, 'n dag ná sy verdwyning, aan die Wesrand gevind is.
Jordaan se verbrande motor en lyk is verlede Woensdagoggend naby Krugersdorp gevind en R1,8 miljoen wat hy vir Jackson gehou het, is oorgeplaas na 'n buitelandse rekening wat glo in Andrews se naam geregistreer is. Die geld het glo uit Jackson se trustrekening gekom.
Jackson, eienaar van die Teazers-ontkleeklubs, is op 3 Mei verlede jaar by ‘n huis in Edleen, naby die OR Tambo Internasionale Lughawe vermoor.
Die Valke ondersoek die saak.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter