Leeus val toeriste se bande aan
2011-03-19 07:02
Johannesburg - As iemand jou motor se noodwiel steel, sal jy geneig wees om die dief te pak. Maar wat as die “diewe” ’n trop leeus is?
Dit was die dilemma waarmee ’n groepie vriende van Nelspruit gesit het tydens ’n onlangse kampuitstappie na die Khutse-wildtuin in Botswana.
Willem Botha, ’n veldwagter en natuurliefhebber, was voorverlede week saam met vriende in Botswana.
“Ek en my ou vriend Stefan van der Walt het die vars lug van Botswana so waardeer dat ons besluit het om die aand sommer bo-op die viertrekvoertuie se dakrakke te slaap.”
Botha het in die middernagtelike ure wakker geword toe sy Pajero heen en weer skud.
Hy het aanvanklik gedink iemand probeer die voertuig sleep. Maar toe kom hy agter dat ’n jong, volgroeide leeuwyfie regop teen sy voertuig se agterdeur staan en probeer om die noodwiel af te trek.
“Voor die voertuig het nog ’n wyfie plat op haar bas gesit en my stip dopgehou.
“Ek het gesukkel om Stefan, wat sowat 10 m van my af op sy bakkie se dakrak geslaap het, wakker te kry.
“Hy wou my nie glo dat daar leeus in ons kamp is nie. Dit was eers toe hy ’n trop jonges sien kou aan my ander noodwiel, wat ek van die dak afgehaal het om vir my slaapplek te maak, dat hy my geglo het.”
Hul ander kampgenote, Piet van Wyk, Johnny Grant, Peet Pelser en Nick James, het daar naby in ’n tent geslaap. Hulle het verwilderd uit die tent geseil en skuiling onder ander voertuie gaan soek.
Intussen het die leeus die noodwiel waaraan hulle gekou het die veld ingesleep en Botha-hulle het tot op die wiel gery sodat hulle ten minste die velling kon red.
Botha het ’n tou om die velling vasgemaak en hulle het die band tot in die kamp gesleep... terwyl die trop leeus agter die band bly aandraf het!
Die leeus het die res van die nag en ’n deel van die oggend in die kamp gebly!
Albei bande was aan flarde gebyt en moes vervang word.
- Beeld