Leeu eet glo dief in park
2010-03-24 10:20
Johannesburg - Twee vermeende wilddiewe is in hegtenis geneem en 'n derde is glo deur 'n leeu in die Krugerwildtuin verlede week opgeëet.
Volgens die twee mans wat in hegtenis geneem is, het die trio op die nag van 12 Maart na die park gegaan om lokvalle vir die diere te stel, het William Mabasa, 'n woordvoerder van KNP in 'n verklaring gesê.
"Hulle het op die nag van die 13 teruggekeer om te sien wat hulle gevang het. Op pad terug het hulle op seekoeie afgekom wat hulle aangeval het. Die mans het toe in verskillende rigtings gehardloop."
Twee van die mans het veilig uit die park gekom, maar het bekommerd geraak toe hul vriend nie terugkeer nie.
"Een van die wilddiewe was die neef van die derde man en het sy ma vertel dat hy nie van die park teruggekeer het nie. Sy het toe die voorval by die polisie aangemeld," het Mabasa gesê.
Die twee mans is by hul huis in Mkhuhlu naby Hazyview in hegtenis geneem. Hulle het toe die polisie na die plek geneem waar hulle die derde man laas gesien het.
"Bloed en geskeurde klere is gevind."
Wildbewaarders het Saterdag 'n menslike skedel in die Pretoriuskop-gebied van die park gevind. Daar word vermoed dat die derde man deur 'n leeu geëet is.
Die twee mans wat in hegtenis geneem is, word by die Skukuza-polisiekantoor aangehou.
Die polisie in Mpumalangs kon nie onmiddellik die voorval bevestig nie.
– Sapa