Leerlinge tuis ná nagmerrie-sporttoer
2011-10-14 09:08
Kimberley – Noord-Kaapse leerlinge wie se langverwagte Europese sporttoer skeefgeloop het nadat die organiseerder glo nie die hotel betaal het nie, is veilig tuis, maar die nare herinneringe aan die toer oorskadu nou die aanvanklike opwinding.
Die organiseerder is Michael Grundling van World Sport Barbarian-toere, wat die toer na Portugal en Spanje vir sowat 130 skoolkinders van Suid-Afrika en Namibië gereël het. Hy het glo slegs ’n gedeelte van die toerkoste aan die bestuur van die Portugese oord betaal. Die Spaanse been van die toer het in die slag gebly.
Robin van Wyk (16) en haar suster Tracy-Lee (17) van die Hoërskool Kathu sê dit was nie lekker om sonder geld in die buiteland te sit nie.
“Ons het die Vrydag in Vilamoura aangekom. Ons kon aanvanklik nie in die hotel oorbly nie weens uitstaande geld. Ná ’n lang gesprek moes elkeen nog R350 betaal om twee aande te bly,” sê Robin.
“Ons het ’n paar netbal-, hokkie- en rugbywedstryde in Portugal gespeel. Die Spaanse wedstryde is afgelas.
“Die Sondag moes ons weer elkeen R3 000 betaal om die res van die tyd te bly. Michael het belowe ons sal ons geld terugkry. Al die uitstappies was gekanselleer. Ons het net een bootreis onderneem. Die res van die tyd moes ons by die oord sit en speletjies uitdink.”
Grundling was volgens die kinders min te sien.
Van Wyk sê die onsekerheid het aan hulle gevreet.
“Die laaste twee dae was ons genoodsaak om ons eie middagete en aandete te koop. Ons kon nie wag om huis toe te kom nie.”
Linda Grahame-Walker het besluit om saam te toer “omdat dit so lekker geklink het”. Haar seun Gordon (14) was deel van ’n groep van 28 leerlinge van die Hoërskool Wonderboom.
“Dit was erg toe ons besef die blyplek is nie betaal nie. Ons het alles reeds vooraf betaal. Van die kinders het nie geld gehad nie. Die ander het hulle uitgehelp.
Grundling se prokureur, Peet Hugo van Kaapstad, het Woensdag briewe aan die ouers gestuur. Daarin vra hy dat alle eise na hom gestuur word.
Hugo het vroeër in ’n verklaring namens Grundling om verskoning gevra.
Grundling het erken sy onderneming World Sport Events & Management het voor die toer besef die toer gaan op ’n verlies uitloop. Die vliegkaartjies en meer as 50% van die verblyfkoste in die buiteland was reeds betaal en hulle sou niks van dié geld terugkry as die toer gekanselleer is nie.
“Met dit as agtergrond het my kliënt besluit om met die toer voort te gaan.”
Hugo het gesê ander toere is in die verlede vir Grundling gereël deur ’n maatskappy wat in sulke toere spesialiseer.
Die pas afgelope toer na Portugal het Grundling self gereël.
“Aangesien my kliënt nie die kennis en ondervinding het om oorsese toere saam te stel nie, was hulle nie bewus van al die slaggate en verskuilde uitgawes verbonde aan toere oorsee wat die fluktuering in die wisselkoers insluit nie. Die toer het dus vir die organiseerders op ’n verlies uitgewerk.”
Hugo het in die verklaring gesê ouers se vrese dat hul kinders in die buiteland onveilig was, was ongegrond.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad