Leerlinge 'nie gereed vir lewe ná skool'
2012-01-11 09:01
Kimberley – Die swak matriekuitslae in die Noord-Kaap en die chaos onder voornemende studente om hulle by universiteite te registreer, dui daarop dat leerlinge nie voorbereid is vir die lewe ná skool nie.
Dr. Allan Grootboom, DA-woordvoerder oor onderwys, sê die regering moet wakker skrik.
“Die vak lewensoriëntering is veronderstel om leerlinge rigting te gee. Al kry leerlinge sulke hoë punte in dié vak, kry hulle geen leiding van onderwysers nie.
“Het die onderwysers raad gegee aan kinders oor hoe om armoede te ontsnap? Hulle weet nie eens wat die prosedures en vereistes is van universiteitstoelating nie.
“As ons werklik ons jeug wil help om vaardighede te ontwikkel, moet ons hulle vertel hoe om dit te doen.
“Aansoeke moet reeds in die tweede skooltermyn ingedien word. Leerlinge het dan reeds hul gr.11 punte as grondslag vir hul aansoeke.
“Ons wens vanjaar se matrikulante die beste toe en vertrou dat dieselfde foute nie weer gemaak word nie,” sê Grootboom.
Die Jong Kommuniste-liga het Dinsdag gesê hy eis ’n dringende ondersoek na die oorsaak van die daling in die Noord-Kaapse matriekslaagsyfer.
Keitumetse Mathiba het gesê die ANC-regering het vordering gemaak in die afgelope 17 jaar om onderwys te verbeter.
“Daar moet onmiddellik ondersoek gedoen word na die redes vir die swakker uitslae. Die John Taolo Gaetsewe-distrik moet dringend aandag kry.
“Ons is steeds gekant teen die publikasie van uitslae. Daar is te veel klem op syfers, eerder as die geheel van die onderwysstelsel. Die stelsel het steeds te veel oorblyfsels van die verlede. Daar is nie genoeg gelyke geleenthede vir almal nie.”
Die liga het verskeie eise.
“Die premier se beurskema moet herbekyk word. Skole moet almal dieselfde uniform dra. Skoolboeke moet vinniger afgelewer word. Die departement moet vinniger ingryp in vakke soos geletterdheid en lewensoriëntering.
“Ons gaan ons Reg om te Leer-veldtog verskerp. Ons wil leerlinge help wat nie matriek geslaag het nie. Hulle moet teruggaan skool toe en twee keer so hard werk.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad