‘Leerlinge nie belangrik vir onnies, geld ís’
2010-09-30 07:46
Johannesburg - Suid-Afrika se onderwysstelsel is steeds in ’n krisis as ’n mens na die onlangse staking deur onderwysers en die “boefagtige optrede” deur sommige Cosas-lede kyk.
Graeme Bloch, onderwysontleder, het gister tydens onderwysweek in Johannesburg gesê dit was tydens die staking duidelik onderwysers stel meer in hul salarisse en geld as in hul leerlinge belang.
Hy het ook verwys na Cosas-lede wat onlangs tydens betogings eiendom beskadig en 25% gratis punte geëis het.
Hy het gesê dié optrede is skerp in teenstelling met die vreedsame optogte van lede van Equal Education wat vroeër vanjaar in hul duisende in die strate van Kaapstad gepleit het om die oprigting van skoolbiblioteke.
Albert Chanee, adjunk-direkteur-generaal vir beplanning in die Gautengse onderwysdepartement, het gepraat oor benaderings van die departement om onderwys in die provinsie te verbeter.
Hy het verwys na geletterdheid- en gesyferdheidstoetse wat in 792 skole gedoen is waar die meeste gr.?3-leerling onder 40% behaal het.
Hy het gesê uit die studie was dit ook duidelik dat die gehalte van onderrig in hoër middelklasskole ook nie goed is nie en dat mens ook nie hier die prestasies sien wat elke kind moet behaal nie.
Hy het gesê die departement het die afgelope tien jaar hoofsaaklik gefokus op skole wat onderpresteer en swak matriekslaagsyfers gekry het.
’n Benadering is nou aanvaar waar daar ingrypings in elke skoolfase moet wees om onderrig te verbeter. Die ingrypings fokus op geletterdheids- en gesyferdheidsvaardighede en prestasie in tale en wiskunde.
John Samuel, onderwyskenner en spesiale adviseur vir die regering se 1 Goal-veldtog, het gesê dit is tyd dat onderwysbeleide en strategieë weer bekyk word.
Hy het gesê dit is van kritieke belang dat daar ’n goeie verhouding tussen demokratiese gemeenskappe en openbare onderwys moet wees.
Hy het gesê openbare onderwys is die mees betekenisvolle instrument vir herverdeling.
“Die regering moet seker maak die verspreiding word gedoen, anders gaan die tendens voortduur waar ons twee onderwysstelsels, een vir rykes en een vir armes, het.”
- Beeld