Leerlinge kry nóg 2 vakansiedae by
2011-06-07 08:31
Johannesburg – ’n Week voordat skole vir die wintervakansie sluit, gaan skoliere met nóg twee vakansiedae bederf word.
Jeugdag volgende Donderdag is reeds ’n openbare vakansiedag en Vrydag is ook tot skoolvakansiedag verklaar, het dr. Granville Whittle, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, gesê.
Die skole sluit op Vrydag 24 Junie en heropen op 18 Julie. Ouers kan sommer ook nou al aan ’n langnaweek in Augustus begin beplan wanneer Maandag 8 Augustus ’n skoolvakansiedag is voordat Vrouedag op 9 Augustus gevier word. Enkele ouers het Beeld oor die “ekstra” vakansiedae genader en hul misnoeë daarmee uitgespreek.
“Die departement moet besluit of kinders moet werk of speel. Hulle het reeds hoeveel ekstra dae in April vakansie gehad en boonop is daar ook nie op 18 Mei skoolgegaan toe die munisipale verkiesing gehou is nie,” het een gesê.
Nóg ’n ouer het gesê die departement neem duidelik nie in ag nie dat die meeste ouers op daardie twee bykomende vakansiedae moet werk en dat kinders dus aan hul eie lot oorgelaat word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld