Leerling vas weens kokaïen by skool
2011-03-05 08:49
Centurion - 'n Gr.11-leerling aan ’n hoërskool in Centurion is gister by die skool in hegtenis geneem weens die besit van kokaïen ter waarde van R17 500.
Nóg ’n leerling aan die Hoërskool Uitsig, ’n matriekleerling, is aangekeer nadat hy met 3 g dagga in sy besit betrap is.
Dr. Jan Visagie, skoolhoof, het gister gesê die twee leerlinge is tydens ’n klopjag deur die Pretoria K9-eenheid gevang.
Volgens Visagie is die klopjag gereël omdat dwelms in elke skool voorkom en hy dit nie in sy skool wil hê nie.
Al moet die gr. 11-leerling oormôre weens ’n aanklag van dwelmhandel in die landdroshof in Atteridgeville verskyn, het Visagie gesê daar is nog nie bewys dat hy ’n handelaar is nie. 70 g kokaïen is in sy besit gevind.
Die gr. 12-leerling sal ook in dieselfde landdroshof verskyn, maar op aanklag van dwelmbesit.
Albei leerlinge is positief getoets vir die gebruik van dwelms nadat hul urine getoets is.
Die seuns is ná hul inhegtenisneming saam met die polisie na die Wierdabrug-polisiekantoor waar hulle aangehou is. Hulle is later in
hul ouers se sorg vrygelaat.
Visagie het gesê klopjagte is iets wat van tyd tot tyd in sy skool uitgevoer sal word en “eerder gouer as later”.
Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het onlangs gesê dwelmmisbruik in skole is skrikwekkend.
Dié departement beoog verrassingsbesoeke en toetsing van alle leerlinge in die provinsie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld