Leerling sterf skielik ná operasie
2010-06-08 06:43
Volksblad
Bloemfontein – Slegs ure voordat ’n sprankelende leerling van Bloemfontein skielik onverklaarbaar ná ’n operasie dood is, het sy nog vir haar ouers uit haar hospitaalbed beduie alles is reg.
Cailleigh Potgieter (14), ’n gr.9-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, is gister in die vroeë oggendure van familie en vriende weggeruk nadat sy die vorige aand ’n nood-blindederm-operasie ondergaan het.
Haar broer, Vaughn (19), ook van Bloemfontein, sê sy suster, wat diep spore in mense se harte getrap het, is Sondagaand na die Bloemfontein-Medi-Clinic gebring toe sy oor maagpyn en naarheid gekla het.
Toe sy ná die operasie uit die teater kom, het sy nog haar duim vir haar ouers, Lana en Francois, in die lug gesteek om te wys alles is reg.
Haar ma en pa, onderskeidelik ’n hulpbronbestuurder en elektriese tegnikus vir Eskom, is huis toe, maar is later tot hul skok oor hul kind se skielike dood ingelig.
Mev. Amanda Appelgryn, hospitaalwoordvoerder, sê ’n nadoodse ondersoek word gehou om die oorsaak van die meisie se dood te bepaal.
Volgens haar sal die uitslae na verwagting vandeesweek bekend wees.
Vaughn sê die gesin beleef ’n nagmerrie.
“’n Mens vra jouself heeltyd ‘kan ek nie nou asseblief wakker word nie’.”
Sy pa is verpletter en sê volgens Vaughn elke keer as hy verby Cailleigh se kamer stap, besef hy sy dogtertjie is nie meer daar nie.
Mev. Potgieter se boodskap aan ander ouers is dat hulle elke aand voordat hulle gaan slaap hul kinders ’n stywe drukkie sal gee, want hulle weet nie of hulle hulle weer sal sien nie.
Cailleigh word onthou as ’n liefdevolle kind met ’n lus vir die lewe.
Mej. Mariehetta Matthee, hoof van die Hoër Meiskieskool Oranje, sê Cailleigh het ’n bepaalde rol in haar klas gespeel. Volgens Matthee was Cailleigh se vriende en onderwysers baie hartseer en ontsteld toe hulle van haar dood gehoor het.
“Sy was ’n oulike kind.”
Cailleigh was baie lief vir diere, veral perde, en wou ’n veearts word. “As ’n voël seergekry het, moes dit eers versorg word,” sê haar broer.
Mnr. Potgieter se boodskap aan sy dogter is: “Pa gaan jou baie mis, jou vreugdevolle lag en liefde vir almal, mens en dier.”
Cailleigh was baie lief vir die buitelewe en sport.
Sy het sedert 2003 elke jaar aan die Midmar-myl deelgeneem en het ook op die hokkieveld as ’n doelwagter uitgeblink.
Haar skoolhoof sê die “lang, dun lyfie” het behoorlik in die doelhok beweeg.
Boonop was Cailleigh baie lief vir lees en het verlede jaar ’n leeskompetisie gewen. “Sy was een van die kinders wat orals haar kant gebring het,” sê Matthee.
Die gesin bedank vriende en familie vir hul ondersteuning. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad