Leerders uit skool geskop oor Moslem-kopdrag
2013-01-24 10:28
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek die saak van twee kinders wat uit 'n skool in Kaapstad geskop is oor hul tradisionele Moslem-kopdrag.
Sakeenah Dramat (16) en haar broer, Bilaal (13), is verlede week op die eerste skooldag deur onderwysers by die Hoërskool Eben Dönges in Kraaifontein onderskeidelik gevra om hul serp en fes te verwyder.
Nabila, die kinders se ma, het gesê die skool het haar later die dag ingeroep en gesê dit is teen die skool se beleid vir haar kinders om die kopdrag te dra.
Die kinders het intussen ses skooldae gemis.
"Ek kan hulle nie toelaat om dit af te haal nie, omdat dit teen ons geloofsoortuiginge is. Dit is baie hartseer en ontstellend. Hulle is hartgebroke omdat hulle vir so 'n eenvoudige rede uit die skool is."
Die SAMRK het gesê hy ondersoek die saak.
Wilfred Taylor, die skoolhoof, het die koerant gevra om die provinsiale departement van onderwys te kontak vir kommentaar.
Paddy Attwell, woordvoerder van die departement, het aan die koerant gesê 'n beampte sal Donderdag met die ouers by die skool vergader om te reël dat die kinders kan terugkeer skool toe.
"Ingevolge die riglyne oor nasionale skooluniforms moet skole geloof- en kulturele diversiteit in ag neem. Ons glo dit is 'n eenvoudige saak om die beleid aan te pas om aan dié vereistes te voldoen."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA