Lasbrief vir LUR se inhegtenisneming uitgereik
2011-07-11 21:01
Johannesburg – Lasbriewe is uitgereik vir die inhegtenisneming van die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme in KwaZulu-Natal, Mike Mabuyakhulu, en die speaker in die KwaZulu-Natalse wetgewer, Peggy Nkonyeni, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Maandag gesê.
“Ek kan bevestig dat die opmerkings deur die KwaZulu-Natalse Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in die Independent on Sunday oor lasbriewe vir inhegtenisneming... korrek is,” het Mthunzi Mhaga gesê.
“Ek het met die waarnemende DOV, advokaat Simphiwe Mlotshwa, gepraat en hy het bevestig dat hy die lasbriewe, wat met die Intaka-projek verband hou, onderteken het,” het hy gesê.
“Sover ek weet is niemand nog in hegtenis geneem nie.”
Die polisie was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
Mhaga het verwys na ‘n berig in die Independent on Sunday wat lui dat die polisie gereedmaak om Mabuyakhulu en Nkonyeni in hegtenis te neem.
Die twee word deur aanklagte van bedrog en korrupsie in die gesig gestaar. Die aanklagte hou verband met ‘n “skenking” van R1 miljoen deur die Suid-Amerikaanse sakeman Gaston Savoi aan die ANC in 2007, in ruil vir ‘n tender van R45 miljoen van die regering.
Normale tenderprosesse is na bewering oor die hoof gesien sodat die tender aan Savoi se Intaka-maatskappy toegeken kon word om watersuiwerings-aanlegte aan hospitale en klinieke in KwaZulu-Natal te voorsien.
Mlotshwa het aan die Independent on Sunday gesê: “In hierdie stadium het ondersoeke onthul dat hulle van bedrog en korrupsie aangekla moet word. Hierdie aanklagte hou direk verband met die kwessie waarby Savoi betrek word. Die ondersoek duur egter steeds voort en as daar gevind word dat meer ernstige klagte aanhangig gemaak moet word, sal ons dit doen.”
- Volg Nuus24 op Twitter