Lasbrief uitgereik vir oorlede regter se vrou
2011-07-25 20:02
Kaapstad – Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Maandag ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van Thandi Maqubela, weduwee van die oorlede waarnemende regter Patrick Maqubela, gemagtig.
Nadat sy op borgtog van R100 000 vrygelaat is, het sy versuim om op te daag by ‘n voorverhoor-konferensie. Dié konferensie is gereël om die kwessie van haar regsverteenwoordiging op te los nadat sy die mandaat van die Regshulp-advokaat Morné Calitz in April beëindig het.
Haar verhoor in die Hooggeregshof, op aanklagte van onder meer moord, sou aanvanklik in April begin het.
Die verhoor is tot 10 Oktober uitgestel sodat haar nuwe regspan, advokaat Philip Higgo en prokureur Howard Rubenstein, tyd kon hê om voor te berei en befondsing uit te sorteer.
In April is ‘n verdere voorverhoor-konferensie, om te bepaal wie haar regsverteenwoordigers sou wees, vir 25 Julie geskeduleer.
Maqubela was egter Maandag nêrens te vinde nie. Higgo het gesê hy en Rubenstein was gereeld met haar in kontak tot 12 Julie, waarna hulle haar slegs deur e-pos-kommunikasie in die hande kon kry.
Hy het gesê die regspan is nog nie betaal nie en dit, tesame met haar afwesigheid, het hom en Rubenstein genoop om van die saak te onttrek.
Hy het twee sertifikate by die hof ingedien wat daarop dui dat sy onlangs die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg besoek het om vir duiseligheid, kopsere en naarheid behandel te word. Luidens die sertifikate is sy egter nie in die fasiliteit opgeneem nie, het Higgo gesê.
Regter John Murphy, van die Hooggeregshof in Johannesburg, is spesiaal aangewys om die verhoor in die Kaapse Hooggeregshof te lei.
Aanklaers Bonnie Currie-Gamwo en Pedro van Wyk het aan die hof gesê Maqubela woon nie meer by haar huis in Sandton, Johannesburg nie, en dat sy van woonplek verander het sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel.
Dit beteken dat sy haar borgvoorwaardes oortree het, het Currie-Gamwo gesê.
“Die Staat weet nie waar sy nou woon nie en ons vra ‘n lasbrief vir haar inhegtenisneming aan,” het sy gesê.
Die regter het die onmiddellike uitreik en uitvoering van die lasbrief gemagtig.
Hy het voorts ‘n verdere voorverhoor-konferensie vir 8 Augustus geskeduleer en het die Regshulp-owerhede beveel om dringend aan hom te rapporteer oor die moontlikheid dat Maqubela van Regshulp voorsien kan word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA