Lasbrief uitgereik vir Selebi
2011-12-05 14:49
Johannesburg – Die Suid-Gautengse hooggeregshof het 'n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van die voormalige nasionale polisiehoof Jackie Selebi.
Indien Selebi nie homself oorgee nie, sal hy inhegtenis geneem en tronk toe geneem word, berig die eNews-kanaal.
Die lasbrief kan slegs nietig verklaar word indien die hospitaal 'n beëdigde verklaring aflê wat sê Selebi is te siek.
Andrew Leask, ondersoekbeampte, het die lasbrief by die hof gaan afhaal.
Selebi is Vrydag, oomblikke nadat sy aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding op aanklag van korrupsie misluk het, in die Jakaranda-hospitaal in Pretoria opgeneem.
Sy prokureurs het Maandagoggend 'n mediese sertifikaat by die hof ingehandig, maar hulle wou niks verder sê oor sy toestand nie.
Selebi is skuldig bevind op aanklag van korrupsie en 15 jaar tronkstraf opgelê.
– Volg Nuus24 op Twitter