Langer dag vir gr. 1 tot 3
2011-12-29 10:00
Johannesburg – Die meeste skole het reeds hul roosters aangepas
vir die langer skooldag wat volgende jaar vir leerlinge in die
grondslagfase (gr. 1 tot 3) wag.
Dr. Gustav Niebuhr,
kurrikulumkenner by die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê
daar is geen ongelukkigheid omdat die skooldag ’n halfuur langer moet
wees nie aangesien die besluit om Engels in gr. 1 en 2 verpligtend te
maak, verlede jaar al deurtrap is.
Die besluit spruit uit navorsing oor leerlinge se taalvaardigheid en die oorskakeling na Engels as onderrigtaal ná gr. 3.
Die
departement het bevind leerlinge sukkel te veel as hulle in gr. 3 vir
die eerste keer met Engels kennis maak en dit in gr. 4 as onderrigmedium
begin gebruik.
Die finale
kurrikulum-en-assesseringsbeleidverklarings (Caps), wat taalonderrig vir
gr. 1 tot 3 uitbrei, word volgende jaar in die grondslagfase en gr. 10
ingestel. Die ander grade kom in 2013 en 2014 aan die beurt.
Ingevolge
die nasionale beleid het ’n leerling in gr. 1 tot 3 vier vakke. Dit is
huistaal en nog ’n taal op die vlak van eerste addisionele taal,
wiskunde en lewensoriëntering. Die onderrigure vir gr. 0 tot 2 is
volgende jaar 23 uur per week en vir gr. 3 25 uur. Dit sluit nie pouses,
saalbyeenkomste en buitemuurse aktiwiteite in nie. 10 uur word in gr. 0
tot gr. 2 aan tale afgestaan en 11 uur in gr. 3.
’n Maksimum van
8 uur en ’n minimum van 7 uur is vir taal op huistaalvlak vasgestel en
’n minimum van 2 uur en ’n maksimum van 3 uur vir die addisionele taal
in gr. 0 tot 2. In gr. 3 word ’n ekstra uur aan die addisionele taal
afgestaan. Vir wiskunde word 7 uur onderrigtyd per week van gr. 0 tot 3
opsy gesit. Leerlinge in gr. 0 tot 2 moet 6 uur per week
lewensoriëntering-onderrig kry, en in gr. 3 word dit met ’n uur verleng.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld