Landbousektor gaan ly – Zille
2012-11-15 14:25
Kaapstad – Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het Donderdag gesê die landbousektor gaan miljoene rande verloor ná Woensdag se chaos in verskeie dorpe, berig Eyewitness News.
Geweld het vinnig versprei nadat plaaswerkers deur dorpe in die Boland, Weskus en die Kaapse Wynland-distrik betoog en 'n spoor van verwoesting gelaat het.
Plaaswerkers in De Doorns staak sedert verlede week en eis 'n daaglikse loon van R150 en beter werkstoestande. Dié staking het vandeesweek na ander dorpe uitgekring.
Zille het 'n mediakonferensie gehou oor hoe veiligheidsmaatreëls by die provinsiale rampbestuursentrum in plek gestel is.
Sy het Woensdag se geweld as 'n krisis beskryf en vrees dat geweld in die provinsie anargie kan veroorsaak.
Zille kon nie die geldelike waarde van die verlies bepaal nie, maar het gesê dit word reeds op miljoene rande geraam.
Verskeie geboue in Wolseley is afgebrand en pakskure en verpakte vrugte in ander dorpe is aan die brand gesteek.
In Ceres en Prince Alfred Hamlet is 8 000 kratte druiwe aan die brand gesteek.
Zille het gesê die stakende werkers gaan aan die einde van die dag aan die kortste end trek.
"Die mense wat hierdeur geraak gaan word is die werkers wat werkloos gaan wees omdat die hele oes, sowel as die infrastruktuur verwoes gaan wees."
Die premier het ook 'n beroep gedoen om Mildred Olifant, minister van arbeid, om van haar oorsese reis terug te keer om die kwessie aan te spreek.
Intussen het 'n 28-jarige plaaswerker Woensdag weens polisie-optrede gesterf.
Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek die voorval.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter