Landbou-projek bring oud-LUR R2,6 m. in sak
2010-09-06 08:00
Bloemfontein - ’n Voormalige LUR vir landbou in die Vrystaat het R2,6 miljoen uit ’n transaksie met die Vrystaatse departement van landbou gemaak vir ’n projek vir die vestiging van nuwelingboere, wat jare later onsuksesvol blyk te wees.
Abrie Oosthuizen, voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou van die Vrystaatse wetgewer, sê Mann Ulrich het ’n stuk grond, ’n meul, ’n vragmotor en ’n bakkie vir R2,6 miljoen aan die departement van landbou verkoop. Hy sê die boere wat by die projek moet baat vind, kry egter baie swaar.
“Hulle moet die koring, wat by die meul gemaal moet word, uit die Wes-Kaap koop. Die geld is nie genoeg om die projek winsgewend te bedryf nie.”
Oosthuizen sê die boere wat by die projek betrokke is, kan nie eens meer geld leen om die projek ’n hupstoot te gee nie. “Hulle kan nie by banke leen nie, omdat hulle nie hul lenings diens nie en die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VSOK) het hulle reeds R250 000 geleen.”
Oosthuizen sê dié projek op Tweespruit is maar net een van die vele projekte in die provinsie wat nie suksesvol is nie. Hy sê die departement het altesaam 140 projekte wat veronderstel is om nuwelingboere te bemagtig, maar minder as agt is suksesvol. “Ek dink die departement moet eerder 10 pleks van 140 projekte per boekjaar aanpak. As agt uit die tien suksesvol is, het jy 80% sukses behaal, maar nou is 8 uit 140 projekte ’n mislukking.”
Die portefeuljekomitee het verskeie van die projekte besoek.
Oosthuizen sê boere by die projekte kry baie swaar. Hy sê die boere kan nie sonder die departement die mas opkom nie. Hy sê die departement het weer op sy beurt nie die kapasiteit om soveel projekte te bestuur nie. “Daarby is dit ook duidelik dat ander departemente nie by die projekte betrek word nie.”
Oosthuizen sê ’n hoender-projek in die Oos-Vrystaat wat die departement van landbou derduisende rande gekos het om op die been te bring, staan botstil. Hy sê daar is geen hoenders nie en daarby het die departement van gesondheid die slagplaas, wat deel vorm van die projek, gesluit omdat dit nie aan die nodige vereistes voldoen nie.
Nog ’n hoenderprojek, wat in November verlede jaar deur die departement op Soutpan begin is, staan stil. Die hoenderhuise wat vir die projek begin bou is, is ná nege maande nog nie voltooi nie.
David Sekese, ’n begunstigde van die projek, sê die kontrakteur het nie een voltooi nie. Die departement het egter glo reeds die kontrakteur betaal. Volksblad het verneem die departement wou sowat twee weke gelede vir Sekese kuikens lewer, maar moes toe uitvind die huisies is nog nie voltooi nie.
Die portefeuljekomitee gaan na verwagting binnekort ’n verslag oor die projekte met verskeie resolusies in die provinsiale wetgewer ter tafel lê.
- Volksblad