Landbou-minister se reise kos R1,7m.
2010-12-04 06:15
Die Burger
Kaapstad - Sedert Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, sowat 19 maande gelede in dié pos aangestel is, het sy feitlik elke maand ’n buitelandse reis onderneem.
Joemat-Pettersson se oorsese besoeke – die meeste daarvan saam met pres. Jacob Zuma – het meer as R1,7 miljoen beloop.
Die DA het dié uitgawes Vrydag veroordeel.
Besonderhede oor die besoeke is in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van Deetlefts du Toit, DA-LP, bekend gemaak. Hy wou by die minister weet of sy enige oorsese reise onderneem het sedert sy die pos aanvaar het en wat dit gekos het.
Die minister het die afgelope 19 maande altesaam 18 reise onderneem.
Die minister se antwoord was gedateer 27 Oktober en het ook aangedui dat bykomend tot die 18 reise ses amptenare en twee lede van die visbedryf (hulle dek hul eie koste) in November na Parys, Frankryk, sou gegaan het. Die doel van die besoek was om die 17de spesiale vergadering van die Internasionale Kommissie vir die Beskerming van Atlantiese Tuna by te woon.
Dr. Lourie Bosman, DA-LP, het gesê die party is “redelik verbaas” oor die aantal reise wat sy onderneem. “Ons is bewus daarvan dat sy taamlik baie oorsee is. Dit is nie altyd landbouverwant nie – dié reise moet gemeet word aan die voordele wat dit vir die land kan inhou.
“Ons het die afgelope tyd bitter min of feitlik geen ooreenkomste gesluit wat vir ons tot voordeel was nie. As daar substantiewe voordele daaruit kan voorspruit, kan jy sê dit is tot voordeel van die land.
“Die uitgawes is buitensporig hoog. Die geld kon absoluut beter gebruik word.”
- Die Burger