Landbou gaan stadig herstel
2010-02-23 15:37
Ekonome is verras oor die 3,2% groei wat die ekonomie in die vierde kwartaal van verlede jaar, in vergelyking met die groeisyfers van die derde kwartaal van 2009, aangeteken het.
Luidens ‘n verklaring van Statistieke SA het die ekonomie tussen die derde en vierde kwartaal met 3,2% gegroei, terwyl kwartaallikse groei tussen die tweede en derde kwartale 0,9% was.
Mnr. Dawie Roodt, ekonoom van die Efficiënt-groep, asook John Purchase, hoofbestuurder van die Landboubesigheidskamer, sê dié styging is heelwat beter as wat aanvanklik verwag is. Roodt meen die styging is ‘n teken dat die herstel van die ekonomie ná die resessie onderliggend sterker is as wat voorspel is.
Hy sê die twee sektore wat grootliks tot die groei bygedra het is die vervaardigingsektor en die staat. “Mens kan sien dat die staat ekonomiese groei baie ondersteun,” verduidelik hy.
Ekonomiese groei vir 2009 het, jaar-op-jaar, met 1,4% gedaal. Groei in die vervaardigingsektor het verlede jaar, in vergelyking met 2008, met 5,4% gedaal, terwyl groei in die mynwese met 5,9% af is. Vir dieselfde periode het groei in die boubedryf en algemene staatsdiens met onderskeidelik 6,9% en 4,1% gestyg.
Lees meer op landbou.com.