Laaste getuies geroep in Malema-verhoor
2011-10-26 10:04
Johannesburg – Die laaste getuies sal na verwagting Woensdag getuig wanneer die dissiplinêre verhoor van Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, hervat word.
Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, het Dinsdag gesê die leier van die jeugliga se verhoor sal na verwagting 09:00 by die ENB-stadion in Johannesburg begin.
Khoza het gesê hy het "geen idee" wie die laaste getuies is nie.
Daar is spekulasie dat die ANC-LP Winnie Madikizela-Mandela en Tony Yengeni, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, in Malema se guns sal getuig.
"Daar is spekulasie, maar geen bevestiging nie," het Khoza gesê.
Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, het tydens die verhoor op 15 Oktober in Malema se guns getuig.
Die verhoor is vanaf 6 tot 15 Oktober uitgestel nadat Malema met griepsimptome in 'n hospitaal in Polokwane opgeneem is.
Malema en sy adjunk, Floyd Shivambu, word daarvan beskuldig dat hulle die ANC se naam deur die modder gesleep het toe hulle onlangs gedreig het om die regering van Botswana omver te werp.
Die ander leiers wat aangekla word sluit in Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal; Ronald Lamola, adjunkpresident; Pule Mabe, tesourier; en Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal.
Slotbetoë sal na verwagting op 3 November geskied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA