Lááánk sal jy wag...
2010-12-02 06:24
Kaapstad – ’n Tweede dag van een lang verkeersknoop op Kaapstad se hoofweë weens die Metrorail-staking is wat vandag straks op motoriste en pendelaars wag.
’n Geskil tussen werkers en die bestuur kon teen gisteraand nie heeltemal opgelos word nie.
Meer as 150 000 pendelaars van oor die Wes-Kaap heen is gister genoop om ander vervoer te soek nadat treindrywers en ander Metrorail-werkers sonder waarskuwing begin staak het.
Die werkers wat gestaak het, was ontevrede oor die nuwe werkskedule wat gister deur Metrorail in werking gestel sou word.
Dié skedule behels dat treine nou in drie skofte pleks van twee gaan loop. Werkers sal egter steeds dieselfde betaling kry en dieselfde aantal ure werk.
Geen treine het gister geloop nie, behalwe vier vroegoggend uit die Paarl. Daarna was alles op die spoorlyne stil.
Motoriste het ure in hul voertuie aangekruie omdat verkeer erg ontwrig is weens die toestroming van treinpendelaars na taxi’s en busse. Daar is tans ’n “skietstilstand” tussen die twee groepe, maar Metrorail weet nie hoe lank dit gaan hou nie.
Die vakbonde Satawu (South African Transport and Allied Workers’ Union) en Utatu (United Transport and Allied Trade Union) het gisteraand gesê werkers sal vandag terug op hul pos wees.
Metrorail het egter nog nie bevestiging of die werkers wel gaan opdaag en watter treine vandag gaan loop nie.
Me. Riana Scott, woordvoerder van Metrorail, het gesê mense met dringende afsprake moet liefs ander reëlings tref. “Die unies het aangedui dat hul werkers môre (vandag) na die werk sal terugkeer. Verdere stakings is egter ’n moontlikheid en kan pendelaars raak.”
Mnr. George Strauss, president van Utatu, het gister bevestig die staking is voorlopig verby.
“Ons is besig om ’n strategie uit te werk. Ons kyk maar wat die pad vir ons vorentoe inhou,” het hy gesê.
Mnr. Lindelo Matya, streekbestuurder van Metrorail in die Wes-Kaap, het gesê Metrorail het die werkers verseker dat die nuwe tye hoegenaamd geen impak op hulle salaris gaan hê nie.
Hy het ook gesê om die ure te verleng, sal tot voordeel van die duisende pendelaars wees.
“Ons wil die standaard van ons vervoerstelsel verbeter. Die enigste manier is as ons die operasionele ure verleng om die pendelaars te akkommodeer.”
Intussen het Golden Arrow busse vir pendelaars beskikbaar gestel.
Diegene wat week- of maandelikse treinkaartjies het, kan tussen 08:00 en 15:30 met Golden Arrow-busse pendel, asook saans van 18:00 tot 05:30 die volgende oggend.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger