LUR wat glo probeer omkoop moet bedank - DA
2013-02-10 14:52
Johannesburg - Clifford Motsepe, LUR vir plaaslike regering in Limpopo, moet bedank nadat hy glo probeer het om ‘n joernalis om te koop, het die DA Sondag gesê.
“LUR Motsepe lyk gewillig om sy pad te koop uit swak publisiteit rondom tenders wat aan Julius Malema se vriende toegestaan is,” het Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, in ‘n verklaring gesê.
“Dit dui daarop dat hy neig om sy posisie te misbruik, vir klein of groot vorme van korrupsie. Hy moet die regte ding doen en nou bedank.
City Press het Sondag berig dat Motsepe glo probeer het om een van sy verslaggewers om te koop.
Volgens die berig het Mostsepe Vrydag geld aangebied aan die koerant se Limpopo-korrespondent, Sipho Masondo.
Motsepe het Saterdag ontken dat hy geld vir Masonda aangebied het en het die joernalis se integriteit bevraagteken.
Sy prokureurs het Saterdagaand beveel dat City Press nie die storie publiseer nie, het die koerant verder berig.
Ná ‘n week wat Motsepe negatiewe berigte in die media moes afweer, het hy Masondo Vrydagoggend na sy huis genooi.
The Star het vroeër berig dat daar glo met tenderdokumente gepeuter is om R900 miljoen se behuisingkontrakte toe te ken aan maatskappye wat besit word deur vriende van Julius Malema, die voormalige leier van die ANC-jeugliga.
Volgens City Press het Masondo sy weergawe van die voorval in ‘n beëdigde verklaring afgelê.
Ná die vergadering, wat 30 minute geduur het, het die twee na die voordeur geloop.
“Motsepe het daar sy hand in sy sak gesteek en ‘n klomp kontantnote uitgehaal wat netjies saamgebind was met ‘n rekkie. Hy het dit uitgehou na my en het iets gesê soos ‘hierdie is vir petrol vir die naweek’,” het City Press Masondo se beëdigde verklaring aangehaal.
“Ek het vir hom gesê ek kan nie die geld aanvaar nie. Ek het opgemerk dat dit ‘n groot bedrag was. Ek kon sien daar was R100 en R200 note. Die note het nuut en vars gelyk.”
Masondo sê die LUR het probeer om hom te oortuig.
Volgens Motsepe het hy net gesê: “Sou hy [Masondo] enige hulp kort van ons as kamerade in die provinsie kan hy na my kom. Behalwe as hy dit dalk verkeerd geïnterpreteer het op een of ander manier.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA